Kan jy so ’n plaaswerf ook hoor?

Dana Snyman, Beeld, 1 Desember 2011

Wie ken nie die klanke op ’n plaaswerf nie? Ek praat nou van ’n ou plaaswerf, een met ’n hoenderhok ’n ent van die opstal, en ’n stoor met ’n sinkdak, en ’n groentetuin, en ’n kraal, en ’n melkstal. ’n Werf soos Oupa en Ouma s’n.

Die geluide begin mos vroegoggend al: Jy lê daar op die katel in die spaarkamer, onder Ouma se komberse wat vaagweg na motbolle ruik. Dan word jy wakker van ’n geskuifel in die gang.

Dis nog donker. ’n Paar oomblikke later spoel daar water in die wasbak in die badkamer aan die onderpunt van die gang. Dis Oupa, weet jy dadelik.

Jy hoor hom by die badkamer uitkom. Hy gaan by die kombuis in. Dan is daar ’n klikgeluid. Dis die koolstoof se deurtjie wat so maak. Jy hoor Oupa met die vuuryster in die stoof se maag krap. Jy hoor hoe hy kole uit die kolekas haal en dit in die stoof gooi.

Netnou sal die koffiewater ’n Psalm in die swartgebrande ketel op die stoof begin neurie.

In die gang kom nog iemand verby, suutjies in die donker. Dis Ouma. Jy ken die gefluister van haar pantoffels op die vloer. Jy dink aan die vet beskuite wat jy netnou by die kombuis­tafel in die blikbeker met die koffie gaan doop, maar jy staan nog nie op nie. Jy lê onder die komberse en luister na die geluide terwyl die dag agter die toegetrekte gordyne begin deurslaan. Iewers koer ’n tortelduif.

Uit die kombuis kom nou so ’n uitgerekte trekkkk-klank. Dis Oupa wat by die sifdeur uitgaan. Ouma vra nou al hóé lank vir hom om daardie skarnier olie te gee, maar dis asof Oupa wil hê daardie sifdeur moet so kla wanneer dit oop of toe gaan. Jy hoor Oupa iets buitekant in die skemer sê, en dan weet jy hy praat met Boel, wat die hele nag op ’n opgevoude streepsak langs die agterdeur gelê en slaap het.

Jy hoor hoe Boel homself wakker skud: die ketting om sy nek rinkel en sy ore klap teen sy lyf.

Hoe ligter dit agter die gordyne in die kamer word, hoe meer klanke begin op die werf weerklink: Uit die kraal se rigting kom iemand saam met sy voetstappe aangefluit. Dis Lukas, weet jy sommer. In een hand het hy ’n dopemmer louwarm melk wat pas uit ’n koei se uier kom. Die roomkamer se staaldeur skuur oop. ’n Rukkie later begin sjoeing-sjoeing die roomafskeier terwyl Lukas die slinger draai.
“Kiep-kiep-kiep!” roep Ouma in ’n hoë stem by die hoenderhok.

“Kiep-kiep-kiep!”

By die stoor hoes en proes Oupa se bakkie ’n slag, dan vat die enjin. Iemand kap iewers met ’n hamer. ’n Grasbesem vee oor die grond. ’n Graaf stamp die aarde in. ’n Byl kloof deur hout. Onder die afdakkie langs die sementdam begin poef-poef-poef die Lister water uit die boorgat uit. “Helllp!” gil een van Ouma se poue uit die bloekomboom langs die stoor.

Jy staan later op en word ook een van die plaas se geluide: stemme wat praat en raas en roep en lag, enjins wat dreun, beeste wat bulk en skape wat blêr. Die hele dag lank is die werf vol klank, totdat dit laatmiddag al hoe stiller begin raak. Teen slaaptyd hoor jy net ’n kriek iewers krrrr.

Soms dink ek aan die stilte wat snags saam met die donker om ’n plaaswerf vou. Soms wonder ek hoe dit moet wees wanneer daardie stilte opeens verbreek word deur stemme wat smeek, en stemme wat raas of vloek, en skote wat klap.

This entry was posted in Uncategorized and tagged , , . Bookmark the permalink.

1 Responses to Kan jy so ’n plaaswerf ook hoor?

  1. Soosnet Dana dit kan stel. Mens hoor nie net nie, jy ruik ook sommer saam…

    Like

Lewer kommentaar