Bly koelkop en sien dat álmal wen

Die uitspraak oor godsdiensonderrig in skole is ’n oorwinning vir vryheid, skryf Jean Oosthuizen.

Die besluit van die hooggeregshof die afgelope week dat staatskole nie een godsdiens bo ’n ander godsdiens mag bevorder nie, is ’n oorwinning vir godsdiensvryheid.

Dit is geen heksejag op geloof soos wat sommige beweer nie.

Diegene wat in die afgelope jare se debat oor godsdiensbeoefening by skole so vurig voorbrand gemaak het dat godsdienstige meerderhede se voorkeure meer gewig moet dra as minderhede se geloofsoortuigings behoort weer na te dink.

Hulle is besig om ’n “meerderheidsvuur” aan die brand te steek waarmee hulle hul eie vingers op die langer termyn kan verbrand.

Dieselfde mense wat so begaan is oor minderheidsregte steun op die meerderheid se reg om ’n spesifieke geloofetos by openbare skole af te dwing.

Organisasies soos Solidariteit, AfriForum, sekere politieke partye soos die ACDP en kerke, waaronder die NG Kerk, moet hulle liewer daarvoor beywer dat die Grondwet, wat in elk geval godsdiensvryheid waarborg, in álle opsigte eerbiedig word, want vandag se meerderheid kan maklik more se minderheid word.

In die emosiebelaaide debat het ’n volbank regters nou bevestig die eis om sogenaamde “meerderheidsregte” wanneer dit gaan oor godsdiensbeoefening by openbare skole, is die laaste ding wat die land kan bekostig.

Dieselfde mense wat aandring op meerderheidsregte op godsdienstige vlak wil tog nie hê die meerderheid se wil moet geskied as daar van grondverdelings, regstellende aksie, sportkwotas en ander kwessies gepraat word nie?

Pleks daarvan om lukraak strooipoppe op te stel en af te skiet, sal alle partye, ongeag hul geloofsoortuiging, daarby baat vind om koelkop na die afgelope week se uitspraak te kyk en dit behoorlik te bestudeer voordat ondeurdagte stellings gemaak word.

Die hofsaak volg ná ’n jare lange stryd, sedert 2014, tussen die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie (Ogod) en ’n aantal skole wat na bewering diskrimineer teen leerlinge wat nie die Christelike geloof aanhang nie.

Die hofuitspraak gaan nie oor godsdiensonderrig in skole nie, maar oor die beoefening daarvan in skoolure en die wyse waarop dit geskied.

Trouens, diegene wat die aansoek by die hof ingedien het, vra vir méér godsdiens in skole waar ’n groter aantal en breër versameling verteenwoordigende godsdienste met vrye deelname volgens die kinders en hul ouers se keuses onderrig word.

Dit vind reeds baie suksesvol by sommige van ons openbare skole plaas. Geen ras, politieke oortuiging of godsdiens mag deur ’n skool bevoordeel word nie – daardie dae is lankal verby.

Sommige skole en hul ondersteunende verenigings weier om dit te aanvaar. Die hof het nou duidelikheid oor die saak gegee en enige regdenkende mens behoort dit te verwelkom.

Daar word van niemand verwag om sy of haar geloof prys te gee nie. Wat wel gevra word, is dat een groep se geloof nie bo ’n ander geloof bevoordeel word in openbare skole nie.

Is dit nie wat Christene ook van openbare skole sou verwag as hul kinders in ’n openbare skool was waar ’n ander geloofsgroep se kinders die meerderheid is nie?

Die NG Kerk se standpunt dat Ogod se aansoek ’n inherente skending is van verskeie basiese menseregte soos vervat in die Handves van Regte is daarom misplaas.

Die NG Kerk moenie vergeet dieselfde Handves van Regte waarop hy hom nou beroep, bepaal ook dat geen mens regstreeks of onregstreeks onbillik teen iemand op grond van seksuele oriëntasie mag diskrimineer nie.

Hoe rym dit met die NG Kerk se blatant diskriminerende sinodebesluit van 2016 oor homoseksualiteit, téén die Handves van Regte in, waarop hy hom nou beroep?

As ’n mens die Handves van Regte wil bysleep, moet dit nie selektief gedoen word nie.

Volgens die NG Kerk se algemene sekretaris, Gustav Claassen, was die aansoek voor die hof ’n inherente skending van verskeie basiese menseregte soos vervat in die Handves van Regte.

Dit is nie waar dat individue se geloofsoortuigings nou skielik ingeperk word nie.

Die waarheid is dat daar ’n gelyke speelveld ten opsigte van godsdiensbeoefening by openbare skole moet wees. Dit is niks meer nie as ’n bevestiging van die basiese menseregte soos verskans in die Grondwet.

Die probleem in die huidige debat is dat diegene wat die hofaansoek teengestaan het die saak slegs uit hul eie geloofsoogpunt beskou het.

Dit veronderstel dat die beheerrade wat besluite neem oor ’n skool se etos áltyd ’n Christelike meerderheid sal wees.

’n Tweede denkfout wat gemaak word, is om aan te neem alle Christene deel dieselfde godsdienstige oortuigings net omdat Christene in die meerderheid is.

Daar kan tereg gevra word van watter meerderheid word daar gepraat as daar van ’n Christelike meerderheid gepraat word?

Die Christelike geloof met sy bykans 40 000 kerkverbande is allesbehalwe ’n homogene meerderheid wat almal dieselfde etos deel.

Die ses skole wat in die hofsaak ter sprake was het aangevoer kinders word nie benadeel as hulle nie die meerderheidsgeloof van ’n betrokke skool volg nie.

Die saak is glad nie so eenvoudig nie.

Uit die hofstukke blyk dit dat leerlinge by sommige skole wel geviktimiseer en ­gestigmatiseer word as hulle nie aan die skole se godsdiensaktiwiteite wil deel-neem nie.

Van die leerlinge is selfs vertel dat hulle hel toe gaan as hulle nie Christene is nie. Daar is volgens die hofstukke ook onderwysers wat hieraan meedoen.

Dit is algemeen bekend dat daar selfs godsdiensgroepe is wat leerkragte in opleiding werf om leerlinge te bearbei. Dit is nie net onwettig nie, maar immoreel.

Dikwels is leerlinge wat nie godsdienstig is nie of leerlinge wat deel is van minderhede te bang om uit te praat of op te staan of te vra om verskoon te word. Hulle vrees vernedering en uitsondering.

Voor 1994 was godsdienspraktyke en persoonlike menings van onderwysers ­algemene praktyk op skool.

Dit was niks vreemd vir ’n onderwyser om byvoorbeeld ’n geskiedenisklas te onderbreek en oor die “gevare van Satanisme” of oor sy bekering en sy geloof te praat nie.

Selfs Christene soos Rooms-Katolieke en lidmate van Pinksterkerke wat as sektes gebrandmerk is, is in die verlede dikwels as buitestanders behandel op skool.

Om nie eens te praat hoe sommige onderwysers oor Moslems gepraat het nie.

Niemand ontken leerlinge se reg om aan godsdiensrituele van hul keuse deel te neem nie. Maar as dit op so ’n manier gedoen word dat leerlinge wat nie daaraan wil deelneem nie, as tweedeklasleerlinge gebrandmerk word en die klas of skoolsaal moet verlaat wanneer sulke praktyke plaasvind, is dit nie meer vryheid van keuse nie, maar doodgewone diskriminasie.

Daarom is dit nodig om met ’n oop gemoed en objektief te kyk presies wat in die hofaansoek gevra is sonder om links en regs emosionele uitsprake te maak
en diegene wat anders glo te ­verketter.

Die Grondwet (art. 15(2)) en Skolewet (art. 7) maak baie duidelike uitsprake oor wat toelaatbaar is ten opsigte van godsdiensbeoefening by skole en wat nie.

Dit maak egter nie daarvoor voorsiening dat ’n bepaalde godsdienstige oortuiging met of sonder ’n meerderheidsbesluit aan leerlinge opgedwing word nie.

Al wat die hof nou beslis het,
is dat openbare skole nie toegelaat word om een geloof bo ’n ­ander uit te sonder en te be­voordeel nie.

Daar is nooit gevra, soos wat Claassen en sommige ander beweer, dat iemand se reg tot godsdiensvryheid geskend word nie. Daar is slegs gevra dat godsdiensbeoefening (let wel nie godsdiensonderrig nie) buite skoolure geskied sonder dat leerlinge wat dit nie wil bywoon nie regstreeks of onregstreeks geviktimiseer word.

Selfs Christengelowiges behoort die hofuitspraak te ver­welkom.

Hulle sal óók nie daarvan hou as ’n ander geloof voorkeurbehandeling kry wanneer hul kinders op skool blootgestel word aan godsdienspraktyke wat indruis teen hul geloof nie.

Jean Oosthuizen is ’n vryskutjoernalis wat spesialiseer in ­kerksake.

Posted in Uncategorized | Tagged , , , , , , , , , | 1 Kommentaar

Jonny Steinberg oor die wond van plaasmoorde

Net soos wat plaasmoorde ’n wond en die mees sigbare simbool van geweld teenoor wit mense is, is grondbesit een van die sterkste kodes vir voortgesette rasse-ongelykheid in Suid-Afrika, het Jonny Steinberg aan Murray La Vita gesê.

Dit wil voorkom of die uiters wreedaardige aard van baie van die moorde op wit boere van ’n diep haat jeens hulle spreek, sê ’n Nederlandse lid van die gehoor aan Steinberg.

Ons sit in Zuid-Afrikahuis in Amsterdam, waar ’n onderhoud met die skrywer en akademikus teen die agtergrond van sy boek Midlands gevoer word. Hierin ondersoek hy die moord op Peter Mitchell (28), ’n boer in die KwaZulu-Natalse Middellande, in die lente van 1999.

“Terwyl ek navorsing vir Midlands gedoen het, het ek met ’n swart priester van ’n plaaslike kerk praat. Hy het gesê die misdaad maak dit vir hom baie moeilik om daar te leef.

“Toe vertel hy daar is by ’n kamer van een van die nonne ingebreek. Hulle het ’n juwelierstuk gesien wat sy gedra het en dit gevat. Hulle het ook al haar klere en ander eiendom gevat. Toe hulle uitstap, het hulle haar gesteek. Sy was swart.

“Dit het my toe getref dat hierdie swart priester en die non en die wit boere ’n entjie daarvandaan ’n hele paar dinge gemeen het: Dis middelklasmense wat deur haglike armoede omring word en hulle het waardevolle items wat gesteel kan word. Hulle is die slagoffers van baie soortgelyke misdade. Aan die een kant van die pad word die misdade plaasmoorde genoem en aan die ander kant van die pad word hulle iets anders genoem . . .”

Een middag, ’n moord

Midlands is ’n merkwaardige relaas van die uiters komplekse omstandighede en bitter verdeelde land waarin die jong boer Peter Mitchell een middag op die grondpad tussen sy ouerhuis en die kool- en tamatielande in die agterkop geskiet is.

“Daar was ’n laeintensiteit-konflik tussen wit en swart mense, met die nuwe staat as ’n akteur iewers op die agtergrond. Die konflik gaan oor wat met hierdie ou verhouding tussen die groepe gaan gebeur? Ek dink die moord op Peter Mitchell is een oomblik in daardie konflik; in ’n óú verhouding wat net nie kon voortduur nie. En die geveg is oor wat volgende gaan gebeur. Die moord is ’n ekstreme voorbeeld van daardie konflik. Hoe daardie konflik toe opgelos is, is dat ’n paar miljoen swart mense die gebied verlaat het; dit was die mees dramatiese uitkoms van daardie konflik.

“Ek sien dit in ander van my stories wat nie oor boerdery-omstandighede gaan nie, maar oor landelike dorpe waar 20 of 30 000 mense geslagte lank gewoon het, en nou is daar 150 000 mense wat almal in plakkersgemeenskappe op die grense van hierdie dorpe woon. En hulle is die kinders en kleinkinders van mense wat eens op plase gewoon en gewerk het, maar nie meer daar is nie omdat die verhouding tot ’n einde gekom het.

“Die wyse waarop wit boere hoofsaaklik op die beëindiging van hierdie verhouding gereageer het, en ek begryp dit, is deur die kontak met swart mense baie te beperk en hul kontraktuele verhoudinge met hulle so eenvoudig en beperk as moontlik te maak – hulle wil nie hê swart mense moet op hul grond bly nie en hulle wil nie vir enigiets buiten lone betaal nie.”

Die tragiese ding van kinders en kleinkinders van mense wat eens plaaswerkers was, is dat hulle niks van hul ouers en grootouers se lewens en geskiedenis weet nie, sê hy.

“Die grond is vir hulle iets vreemds; hulle beskou hulself as stedelinge sonder ’n geskiedenis. En, ja, dít is die soort mense wat Julius Malema wil mobiliseer. Indien hy daarin sou slaag om sulke mense te mobiliseer, sou hy aan die bewind gewees het want Suid-Afrika is ’n jong land; 50% van mense jonger as 24 het nog nooit gewerk of gestudeer nie. Indien Malema daardie mense sover kon kry om te stem, sou hy baie meer setels in die parlement gehad het. Maar die werklikheid is dat Malema se steunbasis eerder lê by jong, opgevoede swart mense wat aan die deur van die middelklas klop en nog nie heeltemal daar kon inkom nie. Hulle is baie meer bevoorreg as die onopgevoede, werklose jong mense; ek dink húlle stem nie eintlik nie.”

Hul vervreemding van die wêreld rondom hulle vind uiting in die feit dat hulle nie stem nie; nie eens vir Malema nie.

Simboliese betekenis

“Wat ek interessant van plaasmoorde vind, is hoe die besorgdheid en pyn daaroor in hierdie siklusse beweeg. Op ’n gegewe tydstip word hulle politiek geweldig belangrik en dan bedaar dit weer. Die moorde het hierdie enorme simboliese betekenis; dit is die mees visuele wyse waarop wit mense aan geweld onderwerp word. As gevolg daarvan verteenwoordig hulle hierdie permanente wond wat weer en weer oopgaan.”

Net soos wat plaasmoorde ’n wond en die mees sigbare simbool van geweld teenoor wit mense is, is grondbesit een van die sterkste kodes vir voortgesette rasse-ongelykheid in Suid-Afrika, meen Steinberg.

“Dit is so ’n bruikbare konsep vir politici dat dit onafwendbaar is dat dit keer op keer sal opduik. En dit word so wyd, en dikwels op aaklige wyse, gebruik.

“Wat (pres. Jacob) Zuma hoofsaaklik gedoen het met betrekking tot grond, is om ’n alliansie met ’n verskeidenheid van tradisionele owerhede te vorm. En hy probeer wetgewing betreffende tradisionele gemeenskaplike grondbesit so verander dat hoofmanne groot mag oor gewone mense het. Hy wil daardeur die ou landelike aristokrasie baie ryk maak.”

Wat is sy siening van AfriForum se onlangse verslag waarin beweer word dat plaasgeweld op sekere tydstippe toegeneem het ná radikale uitsprake oor boere en grondbesit deur mense soos Peter Mokaba, Julius Malema en Zuma?

“Grondbesit is ’n baie gelaaide konsep en mense gebruik dit baie sinies. Ek weet nie of politici se uitsprake (soos “Kill the boer!”) ’n regstreekse impak op geweldsvlakke het nie. Ek dink wat wel waar is, is dat ons in ’n tyd leef waarin alle politici in Suid-Afrika baie min gesag het. Die land as ’n geheel is baie sinies oor wat politici sê. Zuma is nie ’n gewilde president nie en Cyril Ramaphosa, wat by hom wil oorneem, ook nie. En baie arm mense is uiters skepties oor Malema . . . Ek weet nie of politici nog soveel gesag oor gewone mense het dat hulle hulle tot geweld kan aanspoor (deur hul uitsprake) nie.”

Plase ‘kosbaar vir almal’

Hy was onlangs die eksterne eksaminator van ’n Kanadese student wie se doktorsgraad handel oor ’n mondelinge geskiedenis van geweld teenoor wit boere soos deur plaaswerkers vertel.

“Sy was hoofsaaklik in die KwaZulu-Natalse Middellande en het uiteindelik met 500 of 600 plaaswerkers of voormalige werkers gepraat. Haar tesis handel oor wat hierdie mense van die situasie dink. Die beeld wat sy van hulle skets, is werklik nogal merkwaardig.

“Die mense is hartseer oor wat die afgelope 20 of 30 jaar gebeur het, maar wat aan die lig gekom het, is ’n redelike nugter beskouing. Hulle het gesê: ‘Ons wil wit mense nie wegjaag nie want hulle gee ons werk. Wat gaan van hierdie plase word? Die plase is kosbaar, nie net vir hulle nie, maar ook vir ons.’

“In reaksie op die vraag of hulle van ’n wit mens weet wat aangeval en doodgemaak is, het sommiges ja gesê. En wat dink hulle daarvan? ‘Ons is hartseer daaroor,’ is die algemene reaksie.

“Ek het nie indruk gekry van ’n bevolking wat op die punt is om ’n revolusionêre aanslag op die grondeienaars te loods nie. Ek het die indruk gekry van ’n redelik sober, konserwatiewe klomp mense. Hulle het beslis nie gelyk na die soort mense wat Julius Malema opgesweep gaan kry nie.”

* Hierdie is die verslag van ’n openbare onderhoud met Steinberg.

Posted in Uncategorized | Tagged , | Lewer kommentaar

Dís hoe ek vir Anna wil onthou

Geskryf deur Die Wit Rus – verhaal was voorheen te vinde by http://www.diewitrus.co.za

In my standerd-vyf klas was daar ´n meisie met die naam Anna Schaap. Anna was nog vreemder as haar van. Sy het nooit soos die ander meisies pouse gesit en giggel nie. Sy´t ook nooit na ´n sport byeenkoms gegaan nie en elke L.O. klas was sy agter ´n boek in die biblioteek. Behalwe vir haar vreemdhede het niemand haar gespot nie. Sien, Anna het ´n onbeskryflike skoonheid aan haar gehad, waaraan woorde geen reg doen nie. Dit was ´n hemelse mooi soos ´n robyn-rooi sonsondergang of die sagte mis wat vroegoggend om ´n sneeubedekte bergpiek hang. Haar oë was ys-blou, soos diep, koue kolkende water in ´n bergpoel en sy´t sulke láng bene gehad wat altyd bruingebrand was. Anna speel ´n groot rol in my jeug, nie net omdat ek nog nooit weer so ´n byna goddelike mooi beleef het nie, maar vir ´n ander, veel belangriker rede; Anna Schaap was die eerste meisie wat ek gevry het. Of eintlik, wie my gevry het – ´n standerd 5 laaitie weet mos veel meer van ´n rugbybal as van meisiekinners…

Dit was ´n warm oggend in Februarie wat Anna my in die ry voor die wiskunde-klas na haar oom se troue genooi het. Ek het my natuurlik in ´n trans in geskrik en bloedrooi geraak. Hier het die mooiste meisie in die skool, met mý kom praat. As ek skaam raak vir ´n aster kan ek mos die simpelste goed kwytraak op aarde – probeer natuurlik nonchalant voorkom. Ek dink ek het iets gesê soos; ¨ ek sal sien, oukei, as ek nie rugby speel nie ¨.

Om Anna se telefoonnommer te kry was nou vir jou ´n ander operasie. In die laerskool is dit mos buite die kwessie om die meisie self te vra. Ek moes vir een van my vriende ´n piepklein briefie gee om vir sý meisie te gee, dat sy dit weer vir ´n ander meisie gee wat vir Anna ken en dan sou die briefie weer deur die netwerk terug syfer na my toe. Na die proses het die hele skool geweet ek soek Anna se telefoonnommer. Vir die vier dae tot Vrydag is ek van kop tot tone uitgekyk deur my mede-skoliere. Die gesigte van die kinders wat my in die gange beloer het was klasiek, uitdrukkings van jaloesie en respek het my oral na-gestaar.

Die reëlings wat ek later die dag met Anna getref het was vreeslik formeel en met ´n bewerige stem gemaak; Anna se ouers sou my vroeg die Saterdag-oggend kom oplaai en ons sou die 4 ure na Donkerfontein toe ry. Die oom en tannie was vreeslik vriendelik en ek het gewonder hoe díe twee so min na hulle ernstige, eenkant dogter kon aard. Maar hoe verder ons uit Pretoria gery het, hoe meer het Anna verander. Haar koue oë het al meer begin glinster, sy het begin glimlag en teen die tyd wat ons naby aan Donkerfontein was het sy soos ´n regte skool dogtertjie gegiggel oor die simpelste goed. Die laaste uur in daardie kar was vir my hemel. Ek en Anna het langs mekaar op die agterste sitplek gesit, ek dink dis die eerste keer in my lewe wat ek agtergekom het meisies is ook regte mense wat oor karre en rugby kan gesels. Ek het eers veel later besef hoekom Anna haarself so eenkant gehou het, sy was nie ongeskik, of dom, of skaam nie. Anna het die stad gehaat, al die beknopte tuintjies en die baie karre. Sy was ´n plaasmeisie in murg en been wat veel eerder perd sou ry as om te gaan fliek of in die winkels rond te hang.

Anna was ´n strooimeisie, so ek en die oom het saam na die kerk toe gery en langs mekaar gesit. Ek glo nie ek sal ooit weer in my lewe so voel soos toe Anna by daardie kerk instap nie. Met haar wit somerrok, gevlegte hare en ´n krans van piepklein blommetjies op haar kop het sy nes ´n engel gelyk. Dit het my soos ´n hou in die maag getref; hierdie, was die ¨verlief-wees¨ ding waarvan ek al gehoor het. Natuurlik het ek nie ´n woord van die preek gehoor nie. Ek het vir haar gesit en staar soos ´n honger, oorgewig tannie vir ´n stuk kaaskoek. Haar pa, wat langs my gesit het, het lekker gelag toe hy my vang kyk. Ook maar goed hy het my nie ´n oorveeg gegee nie.

By die onthaal het Anna my geleer dans. Elke keer wat sy aan my geraak het, het ek van kop tot tone hoendervleis gekry. En so teen tien uur se kant gebeur dit toe. Sy´t my aan die hand agter die skuur ingelei, gesê ek moet my oë toemaak en my gesoen. As ek eendag in die hemel is sal my hele lewe net uit daardie een oomblik bestaan. Dit was die lekkerste lekker wat en nog beleef het, ´n ander lekker, nie soos om rugby te kyk en biltong te eet nie. Absolute ekstase!

Terug in Pretoria het Anna se oë weer oor gewasem, ek het ´n paar keer by haar gaan kuier in die biblioteek, maar dit was duidelik dat die regte Anna in Donkerfontein agtergebly het.

Sy en haar familie het na skool weggetrek na ´n ander dorp toe. Ek het net twee keer na skool weer van Anna gehoor. Die een keer het ek haar raakgeloop by ´n landbou-skou in Boshof. Sy het uiteindelik vir haar ´n ordentlike van gekry. Sy het getrou met ´n ene Pieter Verster, ´n groot boer in die Vrystaat. Al was dit effens hartseer om te weet sy sal my nooit weer agter die skuur soen nie het ek gesien sy het geluk gevind. Sy was heeldag omring deur die groot oop vlaktes en plaasdiere wat sy so lief gehad het.

Die tweede keer wat ek van Anna gehoor het was toe ek vanmôre die koerant oopslaan en ´n skokkende berig raaklees. ´n Prominente boer en sy vrou is op die plaas Ysterdoring dood in ´n plaasaanval. Hulle name was Pieter en Anna Verster. Anna is ses keer verkrag nadat haar man voor haar doodgeskiet is. Sy is daarna in die gesig geskiet met ´n haelgeweer.

Anna Verster het ´n onbeskryflike skoonheid aan haar gehad waaraan woorde geen reg doen nie. Dit was ´n hemelse mooi soos ´n smarag-rooi sonsondergang of die sagte mis wat vroegoggend om ´n sneeubedekte bergpiek hang. Haar oë was ysblou soos diep, koue kolkende water in ´n bergpoel en sy´t sulke láng bene gehad wat altyd bruingebrand was… En sy kón soen.

Dís hoe ek vir Anna wil onthou.

Die Wit Rus

 

Posted in Uncategorized | Tagged | Lewer kommentaar

Afrikaans is sleutel vir bruin toekoms

Abraham Phillips, Netwerk24, 9 Oktober 2016

Diegene wat universiteite wil Engels maak, verhoed dat bruin mense dieselfde opleidingsgeleenthede as hulle kry, skryf Abraham Phillips. Ek druk myself uit soos wat ek gewoond is om te doen, in my eie woorde, eerlik en sonder aansiens des persoons.

Dit is vir my pynlik om die posisie van Afrikaans in die land en dit wat daaroor gesê en geskryf word, waar te neem. Die pyn verdiep as daar in ag geneem word dat ek, sover terug as 1992, in my boek Die verdwaalde land my besorgdheid uitgespreek het oor die toekoms en voortbestaan van Afrikaans en wat dit tot gevolg gaan hê vir bruin Afrikaanssprekendes en swart tweedetaal- Afrikaanssprekende mense, veral op die platteland.

Taal is die hartklop, die siel van enige mens. Selfs die diere en voëls van die veld word uitgeken deur die geluide wat hulle maak. Taal is op ’n heel ander vlak, byna heilig.

Ek weet, daarom kan ek nie anders nie, ek is lief vir Afrikaans, die taal wat my moeder, mamma Rosina, my geleer en in opgevoed het. Dit is net ’n dwaas wat skaam is vir moedertaal.

’n Bittere uitvloeisel, wat deur die magtiges en vyande van ­Afrikaans teen die taal Afrikaans gevoed word, is die tendens dat sommige wit Afrikaanssprekende mense begin glo dat hulle minderwaardig is as hulle nie Afrikaans afsweer en Engels ­omhels nie.

Hulle doen dit sonder om aan hul mede- bruin landgenote se omstandighede aandag te skenk en besef nie dat Engels nie die ­alfa en omega vir hul voortbestaan en vooruitgang behoort te wees nie.

Selfs Afrikaanssprekende wit mense wat veg vir die voortbestaan van Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch (US) moet daarop gewys word dat hul handelinge die afgelope dekades wat met letterkunde en taalvaardigheid te doen gehad het, dikwels deur hul arm bruin taalgenote as meerderwaardig, misleidend en as tiperend van ’n hoër status en klas ervaar is – iets wat juis deur die vyande van Afrikaans misbruik word.

Hierdie beskouing en handelinge moet dringend verander word. Die gode smag na die dag dat die gebeurtenis sal plaasvind wat die taal Afrikaans se voortbestaan op alle vlakke van die samelewing verseker sal word deurdat die kanon Afrikaanssprekende wit mense volhoubaar na hul bruin taalgenote uitreik.

’n Taal behoort aan al sy sprekers of hulle nou wit, bruin of swart is. Samehorigheid en kommunikasie met en deur alle Afrikaanssprekendes, of hulle arm of ryk is, of hulle hoër opvoeding gehad het of nie, is van kardinale belang. Ek verwys uiteraard ook hier na die omstandighede – armoede, swak onderwys, werkloosheid, drankmisbruik, verslawing aan dwelms soos tik, asook die vernietigende bendegeweld – waarin die arm Afrikaanssprekende bruin mense hulle op die Kaapse Vlakte, die Wes-Kaapse platteland, groot dele van die Noord- en Oos-Kaap en Gauteng hulle bevind.

Hierdie ellende is ’n belangrike oorsaak waarom bruin mense so ’n lae verteenwoordiging op ­tersiêre vlak – soos aan Stellenbosch – het.

Hierdie onmenslike omstandighede waarin die arm bruin mense hulle bevind, kan onmoontlik só voortduur.

Die mening dat dit die staat of akademiese, ekonomiese, kerk- en maatskaplike leiers binne die bruin gemeenskap se plig is om iets hieraan te doen is net ’n halwe waarheid. Wanneer jou broer wat – simbolies gesproke – dieselfde taal, Afrikaans, as jy praat, dit moeilik vind om te oorleef raak dit ons almal. Ras speel geen rol nie.

Die gevoel van vervreemding is onheilspellend groot onder die arm bruin mense.

Om hul moedertaal Afrikaans met Engels te vervang is niks anders as onmenslik nie.

Die gevoel en uitgangspunt onder wit Afrikaanssprekende mense moet wees “ons praat nie vir of namens bruin mense nie, maar saam met hulle oor hul omstandighede waarin Afrikaans so ’n groot rol speel”.

Ek wys ook graag daarop dat Afrikaanssprekende mense wat werklik besorg en bekommerd is oor die voortbestaan van Afrikaans by die US, die skole en ­ander universiteite, nie ’n debat behoort te moet voer oor iets wat inherent verkeerd is nie.

Die teenstanders van Afrikaans by die US en ander instansies is almal geleerde en opgevoede mense wat weet wat die waarheid rondom die kwessie van Afrikaans is, wat behoort te kan onderskei tussen reg en verkeerd, en tussen goed en kwaad.

  • Dit is almal mense wat hul kwalifikasies deur middel van die taal Afrikaans ontvang het, maar nou deur hul optrede wil verhoed dat mense soos die bruin mense, wat dit die minste kan bekostig, ook daardie pad wat hulle geloop het, kan stap.

Posted in Uncategorized | Tagged , , , , , | 1 Kommentaar

SA steeds in ’n koloniale wurggreep

Moeletsi Mbeki en Johann Rossouw, Netwerk24, 11 September 2016

Dit is duidelik dat Suid-Afrika ’n nuwe sosio-politieke fase betree het. Die georganiseerde landbou kan ’n sleutelrol speel in ’n nuwe bondgenootskap om die land in die regte rigting te neem. Moeletsi Mbeki en Johann Rossouw verduidelik waarom.

Om Suid-Afrika se nuwe sosio-politieke ­fase en die unieke geleenthede wat dit bied te verstaan, is dit nodig om eers die aard en funksies van historiese politieke en ekonomiese strukture in Suid-Afrika te verstaan. As die politieke en ekonomiese strukture van Suid-Afrika en die VSA vergelyk word, is dit treffend dat ofskoon hierdie strukture in albei lande hul oorsprong in die middel 17de eeu het, hulle sedertdien baie verskillende paaie gevolg het.

Terwyl die VSA geslaag het in sy anti-koloniale stryd om die wêreld se leidende soewereine land te word, worstel Suid-Afrika steeds met die koloniale kenmerke van sy politieke en ekonomiese struktuur. Dit is hierdie struktuur wat verander moet word indien die land sy potensiaal wil vervul. Minstens agt koloniale kenmerke van Suid-Afrika se politieke en ekonomiese struktuur het min of meer dieselfde gebly onder die Britte (1795-1910), die Nasionale Party (NP, 1948-1994) en die ANC (1994 tot tans).

Dit is:

1. Suid-Afrika se model van voortreflikheid word altyd buite die land gesoek en dit verander saam met die voorkeure van die regerende elite van die tyd. Vir die Britte was dit Londen, vir die NP Wes-Europa en Noord-Amerika, vir die ANC is dit China.

2. Sedert Uniewording in 1910 tot nou toe word Suid-Afrika geregeer deur ’n selfdienende minderheid in die naam van die meerderheid, en eersgenoemde se mag en rykdom hang grootliks daarvan af om buitelandse kliënte se belange te dien. Die Britte het Londen se finansiële belange gedien, die NP dié van Wes-Europa en die VSA, en die ANC China en Indië s’n.

3. Van 1910 tot tans berus ’n groot deel van die Suid-Afrikaanse ekonomie op die onttrekking en uitvoer van onverwerkte minerale. Baie van die kapitaal wat so opgebou word, word uit die land geneem, wat bydra tot die land se oorafhanklikheid van buitelandse beleggings en die ondermyning van die land se soewereiniteit.

4. Van 1910 tot nou word staatsmag gesentraliseer en die eintlike besluite nie in die parlement geneem nie.

5. Van 1910 tot tans, wanneer die regerende elite deur interne weerstand uitgedaag word, ontplooi hy die klassieke koloniale strategie van verdeel en heers. Verskillende sektore van die samelewing word so teen mekaar afgespeel dat nuwe bondgenootskappe, geskoei op ’n gedeelde ervaring van ontnugtering, verhinder word.

6. Van 1910 tot tans word een taal bo Suid-Afrika se ander tale bevoordeel. Inheemse tale word nie toegelaat om te ontwikkel nie, sodat slegs diegene wat die taal van die elite praat vooruitgang kan maak.

7. Van die laat 19de eeu tot op hede word die meeste Suid-Afrikaners se woon- en werkplek geskei. Dit plaas groot druk op gesinstrukture en bly ’n bron van maatskaplike onstabiliteit.

8. Van die laat 19de eeu tot tans dien vervoer- en kommunikasienetwerke meestal korporatiewe en nywerheidsbelange pleks van al die landsburgers.

Dit is teen hierdie tyd duidelik dat ’n blote verandering van die regerende party nie genoeg is nie. As hierdie koloniale kenmerke nie verander word nie, eindig wie ook al regeer by die instandhouding van die ou koloniale patrone. Te oordeel na die hoë proteskoers, die onlangse verkiesingsuitslae en ontploffende openbare uitgawes het die koloniale staat en ekonomie sy einde bereik. Nuwe bondgenootskappe is nodig om die nodige veranderinge teweeg te bring.

Sodanige nuwe bondgenootskappe moet Suid-Afrika se unieke maatskaplike struktuur met sy vyf sektore onder oë sien.

Die ekonomiese elite wat kapitaal en grond beheer, besit produktiewe bates en beskik oor vaardige bestuur, maar hulle beheer nie die regering nie en hulle is afhanklik van die staat vir energie en vervoer.

Die politieke elite beheer die staat en sy inkomste, maar hulle is afhanklik van die stemme van die onderklas – die meesal arm, landelike mense wat pas weer vir hulle gestem het. Hierdie elite besit nie produktiewe bates nie en hul bestuursvaardighede is bedenklik.

Die derde groep is die blouboordjiewerkers, wat arbeidsmag besit en onafhanklike dog verswakkende vakbonde beheer. Hulle word bedreig deur die groeiende getal werkloses.

Die vierde groep is die onderklas en werkloses. Hul vernaamste sterk punt is hul groot getalle en stemkrag, maar hulle beskik nie oor ambagsvaardighede nie en is afhanklik van regeringstoelae om te oorleef.

Die laaste groep is onafhanklike beroepslui, organisasies sonder winsbejag en nuwe ondernemers. Hul vernaamste sterk punt is die invloed van hul netwerke, maar hulle is ’n gefragmenteerde groep wat ook deels van buitelandse skenkers afhanklik is.

Na ons mening is die nuwe bondgenootskap wat Suid-Afrika nou nodig het een tussen kapitaliste, grondbesitters en die onderklas. Die landbou is die sektor waar hierdie verskillende groepe se belange byeenkom. Dus stel ons voor dat die georganiseerde landbou ’n bondgenootskap vorm met die kapitaliste om die landelike onderklas uit armoede te lig en Suid-Afrika ten goede te verander. Die volgende inisiatiewe kan oorweeg word.

Eerstens moet die georganiseerde landbou ’n private fonds saam met kapitaliste stig om plase te koop. Die private sektor sit op meer as R500 miljard se ongeïnvesteerde geld en daar is tans meer as 19 000 plase te koop. As plase deur ’n private fonds gekoop word, kan boere wat hul plase verloor het of kan verloor weens natuurrampe of die groter skaal waarop geboer word, op die grond gehou word om hierdie plase te bestuur en ’n groot landelike werkskeppingsprogram te begin.

Tweedens en saam met bogenoemde moet die georganiseerde landbou saam met private onderwysfirmas funksionele, bekostigbare landelike skole stig. Dié skole moet die model van moedertaalgegronde tweetalige onderrig wat deur dr. Neville Alexander en ander Suid-Afrikaanse taalkundiges ontwikkel is, toepas. Volgens hierdie model studeer kinders vir die eerste sewe skooljare in hul eerste taal, waarna Engels as onderrigmedium bygevoeg word, wat baie beter uitkomste verseker.

Die derde inisiatief wat saam met bogenoemde twee ontwikkel moet word, is die stigting van ’n onpartydige landbouparty. Soos belastingbetalersverenigings in munisipaliteite moet so ’n landbouparty suiwer daarop fokus om landelike munisipaliteite oor te neem om te verseker dat hulle die nodige dienste aan landelike gemeenskappe lewer.

Dit is ’n beter strategie as die huidige een waar boere ’n dubbele munisipale belasting betaal, eerstens aan die munisipaliteit en tweedens deur slaggate reg te maak en ander dienste te verskaf wat korrupte munisipaliteite moet lewer, maar nie doen nie. So ’n party sal ook landelike dienslewering verseker en landelike gemeenskappe nader aan mekaar bring.

So ’n nuwe bondgenootskap tussen kapitaal, grondbesitters en die landelike onderklas kan die nodige opwaartse druk op die staat en die ekonomie plaas om minder koloniaal en werklik soewerein en demokraties te word.

Moeletsi Mbeki is ’n politieke ontleder en ondervoorsitter van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Internasionale Aangeleenthede en dr. Johann Rossouw is verbonde aan die departement filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat.

) Dié is ’n verkorte weergawe van hul aanbieding by die onlangse kongres van Vrystaat Landbou.

 

Posted in Uncategorized | Tagged , , , | 1 Kommentaar

Nuwe vrae oor Bosoorlog

Gert van der Westhuizen, Netwerk24, 23 Augustus 2015

Nostalgie oor die Grensoorlog is ’n gevaarlike terugverlang na ’n militaristiese verlede toe die wapen eerder as die verstand die botoon gevoer het, skryf Gert van der Westhuizen

Gert-van-der-Westhuizen

Dit duur minstens 50 jaar voordat ’n gebeurtenis geskiedenis word, skryf Svetlana Alexievich, wenner van die Nobelprys vir Letterkunde in 2015, inChernobyl Prayer.

Volgens dié berekening word Suid-Afrika se Grensoorlog in die destydse Suidwes-Afrika vandeesweek “geskiedenis” omdat die eerste skote daarvan op 26 Augustus by Ongulumbashe geskiet is.

Dié oorlog, ook bekend as die Bosoorlog, het tot 1989 geduur en in die 1970’s tot Angola uitgebrei. Dit het steeds ’n spesiale plek in die psige van wit Suid-Afrika; iets wat seker nie vreemd is nie as ’n mens in ag neem dat tot soveel as 500 000 jong wit mans verpligte nasionale diensplig gedoen het in die bietjie meer as twee dekades wat die Grensoorlog geduur het.

En nou is dit “amptelik” geskiedenis.

Hopelik sal dit beteken dat daar voortaan behoorlike herbesinning oor dié oorlog sal wees; sonder oordrewe emosie en mense wat politieke munt daaruit wil slaan. (Finansieel word daar reeds vir lank munt uit die Grensoorlog geslaan. Eerste uitgawes van boeke daaroor is byvoorbeeld peperduur en die prys van ’n staaldak, een van die mees gehate stukkies uitrusting wat aan dienspligtiges uitgedeel is, se prys het in twee jaar van R45 tot R450 gestyg.)

Herinneringe aan die Grensoorlog word ongelukkig steeds oorheers deur staaltjies van ’n onoorwinlike weermag, die “beste in Afrika”, wat die “kommunistiese aanslag” teen Suider-Afrika die hoof gebied het.

Ouddienspligtiges sluit hulle by Facebook-groepe aan wat hulle herinner aan die dae toe hulle “man geword het” in die weermag. Dit is geskoei op ’n gevaarlike nostalgie oor ’n militaristiese verlede toe die wapen eerder as die verstand die botoon gevoer het.

Vas oortuig van dié mitiese wit militêre mag, het verskeie regse groepe met die geboorte van die nuwe Suid-Afrika tussen 1990 en 1994 gedreig om die instelling van demokrasie met geweld te ontspoor. Baie van hulle het gespog dat dit maklik sal wees omdat die meeste van hul aanhangers militêr opgelei is.

Dit was toe nie; soos debakels soos veral dié in Bophuthatswana in Maart 1994 duidelik bewys het.

Tog was, en is, daar steeds mense wat glo die weermag moes ingegryp het om die bewindsoorname van die ANC te verhoed. Die feit dat Suid-Afrika dan ’n puinhoop soos Somalië of Sirië sou word, het blykbaar nooit tot hulle deurgedring nie, omdat hulle wys gemaak is dat die weermag die Grensoorlog eintlik gewen het.

Maar dit was ’n oorlog wat die weermag nooit kon wen nie. Hy kon wel veldslae wen, maar nie die oorlog nie, omdat hy ’n land teen die wil van die meerderheid van sy mense beset het.

Daarom word die Grensoorlog in Namibië as ’n vryheidsoorlog beskou. Daarom is 26 Augustus heldedag in Namibië. Daarom sal 26 Augustus grootliks ongesiens in Suid-Afrika verbygaan.

Daarom moet ons eerder van nou af onbevange na die Grensoorlog probeer kyk en ander vrae daaroor vra. Die dae van eindelose en sinlose debatte oor wie nou eintlik die Slag van Cuito Cuanavale gewen het, behoort verby te wees.

Kom ons vra eerder hoekom die oorlog geveg is. Was dit regtig nodig? (Die verduideliking dat Suid-Afrika moes uithou tot die val van Kommunisme in 1989 sodat aanhangers van dié ideologie nie nuwe regerings in Suider-Afrika kon oorheers nie, was nog nooit goed genoeg nie.)

Wie was die ware helde? Was dit die gewone dienspligtiges wat twee jaar en meer van hul lewe moes opoffer in ’n konflik wat beheer is deur politici wat nooit oorlog gemaak het en nooit regtig geweet het wat oorlog is nie?

Was dit nie dalk eerder diegene wat geweier het om diensplig te doen nie wat met hul optrede deur die wit samelewing verstoot is en wat erge vernedering en selfs tronkstraf te beurt geval het? Of was dit nie eerder die Namibiese vryheidsvegters nie?

Laat ons probeer vasstel hoe die oorlog die samelewings in Suid-Afrika, Namibië, Angola en selfs Kuba beïnvloed en verander het en wat die gevolge daarvan was.

Die Grensoorlog is nou geskiedenis. Kom ons behandel dit so deur nuwe vrae daaroor te vra. Bekyk vrae wat al daaroor gevra is uit ’n ander hoek. Vertel verhale daaroor wat nog nie vertel is nie.

Ons kan nie nóg 50 jaar wag om dit te doen nie.

* Gert van der Westhuizen is Beeld se sportredakteur en ‘n oud-dienspligtige wat grensdiens gedoen het. Artikels van hom oor die Grensoorlog het in die Joernaal vir Eietydse Geskiedenis en Scientia Militaria verskyn.

Posted in Uncategorized | Tagged , , , , , , , | 1 Kommentaar

Seks, dagga en boeremusiek

Deon Maas, Netwerk24, 5 Junie 2016

Dis vandag moeilik om te glo, maar Afrikaner-sedebewakers het eens geglo boeremusiek is vuil en agterlik, skryf Deon Maas.

In 1939 het ’n landwye gesondheidsondersoek na 60 000 wit skoolseuns tussen ses en 16 getoon dat 40,3% van hulle ondervoed was.

Lees gou weer en dink mooi oor wat hier staan: In 1939 was vier uit elke tien seuns – wat as die room van die land beskou is – ondervoed.

Daar was verskeie redes daarvoor, maar die belangrikste was verstedeliking. Tussendeur die vernietiging van plase in die oorlog, droogtes, die Groot Griep, die Depressie en talle boere se onvermoë om aan te pas by grootskaalse modernisering van landboumetodes is menige gedwing om die tasse te pak om hul heil in die stad te gaan soek.

Die oorgrote meerderheid van die mense was arm, ongeletterd en nie voorbereid op die uitdagings van ’n groot stad nie.

Die stad van keuse was natuurlik Johannesburg, die plek van goud waar ongeskooldes maklik werk kon kry.

Maar die stad het nie dieselfde ondersteuning gebied as die landelike omgewing nie. Daar was nie die ondersteuning van die gemeenskap, kerk of familie nie. Jy was op jou eie. En as jy arm en ongeletterd was en nie die vermoë gehad het om aan te pas nie, is jy agtergelaat.

As gevolg van die groot toestroming stad toe was daar ’n gebrek aan behuising. Baie gesinne het in enkelkamers gebly wat tegelyk die slaap-, eet- en sitkamer was. (Badkamers, as daar hoegenaamd een was, was natuurlik buite.)

Morele verval was aan die orde van die dag. Die Randse Armsorgraad het na die welsyn van 172 Afrikaanse prostitute omgesien. (Vir die trivia-liefhebbers: Van die 172 het 95% gerook en gedrink.) Dieselfde raad het in ’n tydperk van tien maande omgesien na 2 556 wit voormalige tronkvoëls. Hiervan was 85% Afrikaanssprekend (rokers en drinkers word nie hier aangedui nie).

Daar was probleme met alkoholisme, pedofilie, huweliksverbrokkeling en elke ander sonde waaraan jy kan dink. Nou nie eintlik die prentjie wat die Nasionaliste-volksvaders in latere jare vir ons geskets het van ons voorvaders nie. Die Afrikaner was die buurman oor wie jy op ’n Vrydagaand die polisie gebel het.

Maar in hierdie mengelmoes van chaos en armoede was daar een wenner: musiek.

Die Afrikaner en musiek loop natuurlik ’n lang pad, maar voor die verstedeliking van die 1930’s was dit beheers en bedeesd. Maar in die stad, gemeng met alkohol, losse sedes en vry van die inhibisies van die kerk, familie of gemeenskap het musiek ’n ander vorm begin aanneem – sowel fisiek as maatskaplik.

Dit was tyd vir ’n eg Suid-Afrikaanse blues en sy naam was boeremusiek –
behalwe dat dié term toe nog nie bestaan het nie. Wat ons vandag as “boeremusiek” ken, was destyds bloot Afrikaanse musiek of dansmusiek. Die term “boereorkes” het eers in 1938 sy verskyning gemaak toe dit vir die eerste keer deur ’n joernalis gebruik is.

In die stad het boeremusiek ’n trekpleister geword vir ’n breë deursnit van die samelewing. Weg was die sedige plaasopskop. Hierdie musikante het baie plate verkoop, groot karre gery en onderlangs geloer na almal se dogters, vroue, verloofdes – kortom, enigiets wat ’n rok gedra het.

Een van die groot sterre van die dag, Dawid de Lange, se dogter het ’n paar jaar gelede skaam-skaam oor RSG erken dat haar pa nogals lief was vir vroue, maar nie vir trou nie.

Hierdie boeremusiek-revolusie is in die laat 1920’s afgeskop deur ’n man met die naam Eric Gallo.

Gallo was natuurlik nie die eerste man wat musiek in Suid-Afrika opgeneem het nie. Die eerste plaaslike opname was waarskynlik van die Springbokspan van Paul Roos wat in 1906 ’n opname gemaak het van “We are Marching to Pretoria”.

In dieselfde jaar is die eerste oorspronklike liedjie in Afrikaans opgeneem deur een van Loftus Versfeld se vier broers (niemand is seker watter een nie). Profeties genoeg was die titel van dié liedjie “Bier, bier, bier”.

Gallo het egter besef daar is ’n groot behoefte aan dans- of “boeremusiek” onder die Afrikaanse stedelinge. Hoe gewild blyk daaruit dat amper die helfte van alle opnames uit daardie tyd boeremusiek was.

En die kunstenaars wat hy opgeneem het, was ook nie noodwendig altyd die mense wat jy vir Sondagmiddagete na jou ma se huis sou nooi nie (in elk geval nie toentertyd nie).

Dawid de Lange (1905 – 1947) het lustig gesing oor “maak ’n doppie, maak ’n stoppie, al die rokers bymekaar”.

George Abrahamse, sy banjospeler, was bruin en is in Distrik Ses gebore, maar om verby die vooroordele van die tyd te kom het De Lange hom aan sy gehoor as ’n Jood verkoop.

De Lange het homself op 41-jarige ouderdom doodgedrink, maar in die Depressie het hy 200 000 van sy plaat (en grootste treffer) Suikerbossie verkoop.

Om dankie te sê het Gallo vir hom ’n lang slap kar as geskenk gegee wat hy nooit bestuur het nie, want hy het nie ’n rybewys gehad nie.

Silwer de Lange (nie familie van Dawid nie, hoewel Dawid by Silwer leer konsertina speel het) was ’n ewe kleurryke figuur. Sy suster het van hom gesê: “Hy het ’n bietjie gedop en as hy by danse gespeel het, het hy ’n bietjie meer gedop.”

Nog ’n bekende musikant uit daardie tyd, Hans Bodenstein (1892 – 1946), ’n lid van Die Vyf Vastrappers (en oom van die bekende Manie Bodenstein) is ná die 1922-mynstakings ’n ruk lank voëlvry verklaar met ’n beloning op sy kop, lewend of dood.

Die interessantste van die klomp was egter Faan Harris (1886 – 1950), die Robert Johnson van boeremusiek. Van hom weet ons so min dat daar selfs twyfel is of Harris sy regte van is.

Hy het een oog gehad, want sy vrou, Fiena, wat nogals lief was vir ’n vuisgeveg of twee, het die ander een met ’n koppie verwyder in ’n argument. Hy was ’n ou wat van dorp tot dorp geloop het en buite kuierplekke met die hoed in die hand vir aalmoese gespeel het. Sy solo-album se meesterband was op ’n Britse skip wat deur ’n Duitse duikboot gekelder is en is nooit uitgereik nie. Sy sesjarige seuntjie is voor hom doodgery deur ’n 1936-Ford.

Sy gunstelingdop was Valenciawyn en hy het gehou van sy dagga.

Harris is uiteindelik in Krugersdorp dood onder ’n sinkplaat wat skuins teen ’n motorhuis geplaas is as skuiling.

Hy is, soos Silwer de Lange, in ’n armmansgraf begrawe. (Die Tradisionele Boeremusiekklub van Suid-Afrika het in die 1980’s ’n gedenksteen op Harris se graf in die Sterkfontein-begraafplaas opgerig.)

Die een ding wat boeremusiek egter gehad het, was siel.

Oor een van die min vrouespelers, Carolina Leeson (ook ’n lid van Die Vyf Vastrappers) is daar in die Rand Daily Mail geskryf: “A woman thumped enthusiastically on a piano that bore the marks of many a stern encounter. The melody was being powerfully coaxed from a concertina, ­while the rhythmic support was being accorded with gusto by two guitars and a banjo. This was the genuine article with­out a doubt.”

Die stedelike Afrikaner het nou begin om deur musiek sy eie identiteit te bepaal. Die boeremusiek van daai tyd het niks te doen met die netjiese en gesaniteerde beeld van vandag se weergawe nie.

Daar was natuurlik baie kommer hieroor in die meer geleerde Arikanerkringe. Die Calvinistiese Afrikaner- kerke het sterk te velde getrek teen hierdie musiek en gedrag. Nadat die NG Kerksinode besluit het dat dans nie meer ’n sonde is nie, het dit ’n bietjie beter gegaan, maar dit was duidelik dat hierdie soort musiek en gedrag nie veel langer geduld sou word nie.

Wat natuurlik die meeste kommer veroorsaak het, was die inkruip van Afrika-invloede in die musiek. In hierdie stadium was daar sterk ghoema-, blues- en kwêla-invloede wat sy kop begin uitsteek het in boeremusiek.

Die Nasionaliste se bewindsoorname het egter ’n vinnige einde gemaak aan die grootste musiekpartytjie in die land.

Die goue era van boeremusiek moes plek maak vir musiek meer in pas met die Eurosentriese, Calvinistiese smaak van die nuwe regerende party.

Die Nasionaliste se idee was dat die Afrikaner nie deel is van Afrika nie, maar wel van Europa. Enige verbintenis met Afrika was toevallig.

Op hierdie manier was dit maklik om die idee van baasskap voor te hou as ’n logiese filosofie. As jy uit Europa gekom het, was jy beter opgevoed en gekultiveerd. Dit was belangrik om die Afrikaner te verwyder van sy Afrika-wortels.

  • Ironies genoeg het dit gepaardgegaan met een van die grootste treffers wat nog in Suid-Afrika geskryf is, Nico Carstens (die groot pappa van se Afrosentriese “Zambezi” in die 1950’s. “Zambezi” het Suid-Afrikaanse musiek op die wêreldverhoog gesit, maar die Nattes het ander idees gehad. Die 500 000 eenhede wat plaaslik verkoop is, het hulle klaarblyklik eerder bang as opgewonde gemaak.

Boeremusiek was loshande die gewildste musiek in die Afrikaanse mark, natuurlik dieselfde mark wat vir hulle gestem het; hulle moes dus die saak baie versigtig benader.

Hulle het die snobkaart gespeel. As jy na lanie musiek geluister het, was jy deftig. Dr. Anton Hartman, ’n man met ’n onbeskaamde Eurosentriese musiekaanslag, is as die hoof van musiek by die SAUK aangestel.

Hartman het sy neus opgetrek vir boeremusiek en in 1963 onomwonde verklaar: “Hierdie soort musiek het geen eie kleur, geen eie karakter nie. Ten spyte van die populariteit daarvan is boeremusiek minderwaardig vanweë sy karakterlose tweeslagtigheid en lae uitvoeringspeil.”

Harde woorde.

Hartman het – ongeag wat sy biografie wat deur sy dogter geskryf is, probeer voorgee – boeremusiek probeer doodmaak.

Sy plan van aksie was eenvoudig. Vervang boeremusiek met vertaalde Europese deuntjies. Boeremusiek is van die SAUK se senders verbied.

In sy plek het hy treffers van oorsee af begin invoer, mense met goeie Afrikaans gekry om lirieke daarvoor te skryf en ’n beweging begin wat vandag nog neerslag vind in hoofstroom- Afrikaanse musiek wat in Europese Schlager-musiek vir inspirasie gaan soek eerder as om dit op plaaslike bodem te soek.

Hartman se optrede het boeremusiek so te sê vernietig en talle musikante moes terug na handearbeid op die myne of as treindrywers en timmermanne gaan werk. Vir ander was dit onmoontlik om terug te keer na ’n “normale” lewe, en het hulle tot die bottel gewend. Lewerversaking en long­ontsteking was die twee grootste doodmakers onder hierdie groep.

Op dié manier is die natuurlike ontwikkeling van Afrikaanse musiek deur Hartman en sy Nat-vriende onderbreek in ’n poging om dit op kunsmatige wyse in ’n rigting te dwing wat by hul filosofie inpas. As jy volkskultuur beheer, beheer jy die massa en hoe hulle dink.

So, al bly die Afrikaner al 350 jaar lank in Afrika, is daar steeds diegene wat sal glo hulle het sterker bande met Europa as met Afrika. Hulle is die slagoffers van Hartman se optrede.

dawid-de-lange

Posted in Uncategorized | Tagged , , , , , , , , , , , , , , , , | 2 Kommentaar