Verseker samewerking so

Max du Preez. Netwerk24, 23 April 2108

Die reaksie van swart Suid-Afrikaners op AfriForum se plan om die EFF-leier, Julius Malema, weens beweerde korrupsie en tenderbedrog te vervolg, was oorweldigend negatief.

Dit is wraak oor Malema se agitasie oor grond, sê sommiges. Ander beskuldig AfriForum van rassisme en sê dit is tipies van Afrikaners.

Te oordeel na die reaksies in die hoofstroommedia en sosiale media word die AfriForum-aksie wyd as ’n regse, wit aanslag op swart gesien.

Nou is dit natuurlik ook waar dat die nasionale vervolgingsgesag die prima facie-getuienis dat Malema in 2012 by tenderbedrog in Limpopo betrokke was, geïgnoreer en nagelaat het om hom te vervolg.

Malema het destyds soos ’n multi-miljoenêr geleef, waarskynlik as gevolg van dié aktiwiteite.

Dit is ongesond en onaanvaarbaar. Politieke verantwoordbaarheid is juis erg gebrekkig in ons samelewing. As Malema korrup is/was, moet dit oopgevlek word, veral ook omdat daar ’n kans is dat hy ná volgende jaar se verkiesing deel van ’n regerende alliansie met die ANC gaan wees.

Met alles wat ek van AfriForum en Solidariteit weet, en uit my eie ervaring van interaksies met hulle, moet ek sê dat my eerste reaksie op hul aankondiging ook was dat dit deur wraaksug op ’n militante swart politikus eerder as deur die bevordering van regsoewereiniteit gemotiveer is.

AfriForum het ’n hoogs suksesvolle resep as ’n drukgroep en stemmingmaker. Dit is ’n kombinasie van doeltreffende optrede in plaaslike gemeenskappe waar goed skeef loop, diens aan lede, deelname aan regsgedinge, ’n aanwakker van Afrikaners se vrese as minderheidsgroep en die aanblaas van wit paranoia om nóg lede te werf.

Hulle tree so nou en dan vir iemand op wat nie ’n wit Afrikaner is nie om hulself as ’n burgerregte-organisasie te kan bemark eerder as die Afrikaner-nasionalistiese organisasie wat hulle werklik is.

AfriForum is waarskynlik die mees kapitaalkragtige nie-regeringsorganisasie in Afrika. Hulle het dus, so lyk dit, gekom om te bly.

Die beswaar wat ek en vele ander Afrikaners en ander wit mense het, is dat swart medeburgers ons almal met die AfriForum-kwas verf. Daarby is ek oortuig dat AfriForum/Solidariteit se politieke aanslag niks goeds vir my en my kinders se toekomstige vreedsame naasbestaan in Suid-Afrika inhou nie.

Eintlik behoort AfriForum ’n politieke party te stig en aan nasionale verkiesings deel te neem. Die leiers se ontkenning dat hulle ’n politieke organisasie is, is ’n klug – Af­riForum tree byvoorbeeld reeds as politieke party by universiteite op.

Maar ek hoop AfriForum gaan in die onstuimige dae wat voorlê agterkom dat hul optredes reaksionêr en teenproduktief is.

Daar is plek vir ’n nugter, redelike stem wat oor die belange van minderheidsgroepe wil waak, maar nie vir ’n aggressiewe een wat rassepolarisasie bevorder nie.

Ek wens hulle wil ’n slag by die lot van die Afrikaanssprekendes in bruin woonbuurte betrokke raak wie se lewens deur bendegeweld hel gemaak word. Loods ’n projek om die erge rassisme deur eie ondersteuners te bekamp.

Gebruik jul aansienlike finansiële en menslike hulpbronne en gaan help by die vrot hospitale en swart skole waar die regering die mense so klaaglik faal. Hou op om studente-ondersteuners as militia op universiteite te gebruik en reël eerder uitreikaksies na swart studente.

Doen private vervolgings teen ander mense as dié wat as jul swart vyande gesien word, soos die slagters van Marikana. Hou op om plaasmoorde as ’n emosionele werwingsmetode te gebruik en fokus daarop om plase te beveilig.

Raak ontslae van die apartheid-ontkenners in jul leierskorps.

Dán sal die res van ons ophou om julle as ’n spul geldgierige rassiste en etniese nasionaliste te sien en saam met julle werk.

This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , , , . Bookmark the permalink.

1 Response to Verseker samewerking so

  1. Ek stem… dis werklik ‘n vermorsing van geld en niks gebeur nie.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s