Dana Snyman: Die Randfiguur

Anika Marais, Die Matie, 20 Maart 2013

dana

Dana Snyman se stories het volksbesit geword. Hy kan soos geen ander ’n die spieël voor die Afrikaner hou en hom dwing om weer te kyk. Hy is die volk se gewete.

Maar Dana Snyman is hartseer. Hy wroeg oor die liefde, die Afrikaner, sy eie identiteit. “Ek is flippen sad. Ek is sad.” Hy lyk moedeloos. Dié geliefde rubriekskrywer is moeg.

“Ek ry baie min deesdae. Ek sit maar baie by die huis. Ek bly op Jakobsbaai. Ek het my girlfriend verloor. Ek sit nou maar meeste van die tyd daar.”

Hy erken hy is eensaam. “Ek het darem drie honde.” Hy was vir ’n kort tydjie in 2008 getroud. “Sy was ’n goeie vrou, maar dit het nie gewerk nie. Dit was ’n mal storie. Ek het lank niemand gehad nie en toe het ek ’n girlfriend gekry en toe het dit nie uitgewerk nie.”

“Johannes-hulle bly darem ook by my.”

Johannes-hulle?

“Johannes het my pa opgepas. My pa is oorlede. In April sal dit nou twee jaar terug wees. My pa het op Ventersdorp gebly. Hy was maar ’n armgat. En daar was nie regtig iets wat ek vir Johannes kon gee nie. Hy het my pa teen die einde van sy lewe toilet toe gevat. Toe ná my pa se begrafnis kon ek nie vir Johannes daar los nie. En toe het ek hom nou maar Jakobsbaai toe gebring, want daar is nie werk vir hulle daar bo nie.”

“En nou is hy so ’n wenner op Jakobsbaai,” sê Dana trots. “Hy het ’n lisensie en hy ry die mense se kinders skool toe en hy is net hierdie fantastiese man. Maar toe verlang hy na sy vrou. Toe sê ek vir hom: ‘Ag jirre, bring nou maar vir Lettie ook”.

“Toe bring hy vir Lettie, maar daar is nie werk vir Lettie in Jakobsbaai nie. Lettie het natuurlik dadelik charge van die huis gevat soos ’n moeder. En toe onthou ek Lettie het vir my pa ’n lappieskombers as ’n geskenk gemaak. Toe vra ek vir haar om vir my so ’n lappieskombers te maak en dan sal ek kyk of ek dit vir haar kan verkoop. Toe adverteer ek dit op Facebook en toe kry ons skielik sommer ’n klomp bestellings. Nou sit sy en lappieskomberse maak”.

“Maar nou het sy ’n seun Koos wat verstandelik gestremd is. So Koos is ook nou daar op die werf. Jirre, dis verskriklik daar by my. Maar ons lewe nie haglik nie. Ons lewe mooi. Ek het ’n mooi huis”.

“Toe sê Lettie haar boetie kan goed met masjiene werk. Nee, okay, laat ons die boetie ook afbring. En toe laat ons vir Moses afkom om ons uit die Egipte van komberse te lei. Toe kom hy nou. Hy het met die bus afgekom na die Kaapse stasie. Jirre, ek sal daai dag nooit vergeet nie. Daar klim hy van die bus af met ’n ou naai­masjien en ’n sak met klere. Dié ou wat nog nie eers in Johannesburg was nie. En toe gaan wys ons hom die eerste keer die see. Hy is fantasties. Hulle maak nou komberse daar by my en hulle kry nou meer geld as wat hulle ooit vantevore gekry het.”

Hy vertel hoe baie Johannes, Moses, Lettie en Koos vir hom beteken het ná sy vriendin hom gelos het. “Ek was in my moer. En hulle het my aan die gang gehou. As dit nie vir hulle was nie, het ek êrens gedryf in water. Moses het letterlik by my op die bed kom sit en my hand vasgehou.”

Hy skryf op die oomblik baie oor die verlede. “Ek dink toe­nemend wat ek skryf moet terapeuties wees. Ek probeer sin maak van wat ek rondom my sien.”

Hy het nog nie baie oor sy verhouding met sy pa geskryf nie. “Dit was ’n intense ding. Daar is ’n roman in sy storie, wat ek wil skryf eendag.

“My pa het op Ventersdorp gaan bly. Hy was ’n NG predikant wat toe uit die NG Kerk uitgegaan het en toe het my pa by die AWB betrokke geraak. Hy was die kapelaan-generaal van die AWB. Hy was die dominee van daai klomp skermunkels. Hy was ’n goeie vriend van Terre’Blanche. Ja. En dit was moeilike tye vir my. Hy het steeds my pa gebly. Daar was nooit rêrig tye wat ons nie met mekaar gepraat het nie. Ek het dit maar verduur. En dit het baie woede by my laat ontstaan. En dit is woede wat ek nou sal moet uitskryf. Ek het gevoel hierdie ou het my verneder. Ek het vir Beeld gewerk en dan moet ek ’n storie gaan doen op Ventersdorp. En dan staan my pa daar in sy AWB-uniform. Ek en my pa soengroet mekaar as ons mekaar lanklaas gesien het. En die wêreld se pers is daar en dan stap ek na my pa toe en soen hom en dan gaan sit ek by die joernaliste. Dit was tawwe tye.”

Hy wil nog skryf oor al sy ervarings op Ventersdorp.

“Ek het ook vir Terre’Blanche goed geken. Hy het my gelaaik. Hy het geweet ek ondersteun hom nie, maar hy was ’n groot poësie-liefhebber. Ek onthou ek het die een aand in die Ventersdorp hotel gesit in die kroeg. Dan sit ek so vir die ouens en luister. Terre’Blanche was ’n baie alleen ou gewees. Hy kom koop net ’n bottel oor die toonbank en dan waai hy weer plaas toe. En toe sien hy ek sit ook daar. Toe vra hy of ek nie saam met hom plaas toe wil kom nie. Toe vat ons daai bottel en toe kuier ons dwarsdeur die nag. Net ek en hy. Dit was ’n amazing ervaring.”

Hy wil ’n boek oor die Afrikaner skryf. “Ek wil ry op die spore van die simboliese 1938 ossewa-trek. Dit was ’n groot ding in die land. Orals in die dorpe sien jy die monumentjies. Ek wil skryf oor hoe die Afrikaner toe was en hoe die Afrikaner nou is en só myself as ’n Afrikaner probeer soek. Ek wil veral in dié boek oor rand­figure skryf waarmee ek identifiseer.”

“Dit is ’n baie vreemde ding, hierdie soeke na identiteit. Maar tog kan ’n mens nie van die geskiedenis af wegkom nie. Jy is ’n Afrikaner. My geslag struwel aanhoudend met Apartheid. Afrikaners is ’n merkwaardige klomp mense. Ons kastei onsself kwaai.”

Sy foon lui. Dis Kitte. Sy boemelaarsvriend.

“Jis, Kitte. Ek bel jou nou-nou terug, hoor. Ek is bly, man. Maar ek bel jou later!”

“Kitte is ’n boemelaar wat my bel. Hy is ’n groot vriend. Hy was nou gister in die hof. Hy het ’n hondjie by hom waarmee hy nou saam boemel. En toe het ’n vrou nou histeries geraak oor die hondjie en die hondjie gevat na die dierebeskerming toe. En toe moes hy nou hof toe gaan vir dieremishandeling. Hy het my gister gebel en gesê: ‘Jirre, ek is nou by die hof’. En toe bel hy nou om te sê hy is onskuldig. Maar hy ís onskuldig. Shame, man.”

Dana was op Stellenbosch vir die Woordfees. Hy het saam met skrywers PG du Plessis en Johan Bakkes opgetree. “Ek gaan nou huis toe en dan kom ek môre weer terug. Ek kan nie nog ’n dag hier bly nie. Ek doen dit vir die geld. Rêrig. Ek is vryskut, so ek moet al die geld vat wat ek kry.

“Die jong latte vat my nie ernstig op nie. Ek skryf oor die verlede. En ek is nie arty genoeg om op Stellenbosch te sit nie.”

Maar tog was sy optredes by die Woordfees eerste uitverkoop. Besef hy dan nie hoeveel aanhangers hy het nie?

“Ek kan dit nie glo nie, want dit is so eenvoudig. Dis so fokken eenvoudig. Ek probeer nie doelbewus mooi skryf nie. Ek probeer maar net ’n prentjie maak. Skryf is maar net om prentjies te maak, het ek iewers gelees.”

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , , , . Bookmark the permalink.

One Response to Dana Snyman: Die Randfiguur

  1. Reblogged this on Thulana and commented:
    Die ou wat net prentjies maak…en reken hy’s nie Arty genoeg vir Stellenbosh nie…ai

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s