AfriForum behoort ’n breër Afrikaanse gemeenskap te dien

Albert Nothnagel, Beeld,  29 September 2011

Ek het Adriaan Basson en Kallie Kriel van AfriForum se debat oor Afrikaners en minderheidsregte gevolg.

AfriForum se swak punt is dat hy steeds praat van die “Afrikaner” en dan eintlik bedoel wit Afrikaners.

Presies op hierdie punt plons AfriForum telkens, pens en pootjies, in die rasse-debatspoel. Daar word alles vertroebel en verdrink duisende verstandige bedoelings en aksies ongelukkig.

Wêreldwyd is alle prominente woordeboeke die laaste dekades gesuiwer van rassistiese en kwetsende woorde. Ook die Afrikaanse woordeboeke het dit gedoen.

In die proses het ons eie woordeboeke die woord Afrikaner eintlik “ontdaan” van die betekenis wit Afrikaner!

AfriForum het, na wat ek verneem, die woord Afrikaner in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) geborg. Goed so! Die WAT lui, ná hierdie rassesuiwering, soos volg oor Afrikaner: “Afrikaner 1 a. (rassisties; verouderend) Wit Afrikaanssprekende b. Afrikaanssprekende” verder ook: “Afrikaner (geselstaal) Persoon, wit of swart, wat in Afrika gebore is.”

’n Goeie, eietydse woordeboek-definisie van Afrikaner! Ons kan dus gewoonweg maar net Afrikaner/Afrikaanssprekend wees sonder om wit Afrikaner te bedoel.

Namens watter een van dié woordeboek-Afrikaners/Afrikaanssprekendes praat AfriForum dan nou eintlik? Hulle is mos nie rassisties, of verouderd nie? AfriForum moet net hierdie beeld afskud. Dit is en bly hul Achilleshiel.

Wees dus liewer ’n forum vir die breër, nuwe Afrikaanse gemeenskap.

Dit gaan nie oor die minderheidsregte van wit Afrikaners nie, maar oor die verontregting van almal, of liewer elkeen, en hul eiesoortige regte.

Ook ons bruin broers en susters en swart mense wat tuis is in en naby aan die Afrikaanse taal en kultuur leef, moet nooit vervreemd staan nie

Moenie ’n teiken word nie. Wees liewer ’n bastion vir Afrikaners /Afrikaanssprekendes oor alle kleurgrense heen.

This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , . Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar