Sako3006 vuur die skuilkoeëls af

Dana Snyman, Beeld, 8 September 20111

Soms wonder ek oor sommige mense wat op hierdie koerant se webwerf skryf. Ek praat veral van sommige wat so graag kommentaar onderaan artikels, berigte of rubrieke lewer.

Moet mense toegelaat word om dit te doen? Natuurlik. Dit is alles deel van die relatief oop, demokratiese debat wat in die land aan die gang is.

Is dit ook mense se demokratiese reg om mekaar sleg te sê en te vloek?

Want alte dikwels ontaard daardie stukkie kommentaar onderaan ’n berig of ’n rubriek in ’n geniepsige woordskermutseling met ander mense wat ook kommentaar gelewer het. En dit is ook seker nie noodwendig ’n slegte ding nie. Woorde is darem nog nie klippe, koeëls of bomme nie. Woed eerder jou frustrasies en woede oor wat in die land aan die gang is oor die internet uit as om dit strate toe te neem, sou ’n mens kon redeneer.

Maar hoekom sou ’n mens dit onder ’n skuilnaam wou doen? Verreweg die meeste mense wat kommentaar by artikels, berigte en rubrieke lewer, doen dit onder ’n skuilnaam.

Ek het my dit al probeer indink: Jy sit op ’n oggend voor jou rekenaar en lees sê maar ’n berig oor iets wat pres. Jacob Zuma gesê het waarmee jy nie saamstem nie. Dadelik is jy vies en jy wil hê die wêreld moet dit weet. Dit kan nie so aangaan nie, dink jy. Wat gaan van hierdie land word met so ’n president?

Dan gaan jy af na die blokkie onderaan die berig waar jy kommentaar kan lewer. Jy begin tik. Jy het ’n teorie oor die verskille tussen rasse en jy skryf dit daar neer. Jy skryf onder meer: “Die gene van breek, steel en korrupsie loop dik in hul are.” Jou gemoed voel ligter wanneer jy klaar is.

Nou wil jy jou kommentaar op die webwerf plaas sodat die wêreld dit kan lees. Maar jy huiwer ’n oomblik: Moet jy dit onder jou eie naam doen?

Ek het al gewonder: Op daardie oomblik wat jy besluit om ’n skuilnaam eerder as jou regte naam te gebruik, voel jy op daardie oomblik nie ’n bie­tjie soos ’n lafaard nie?

’n Mens sou ook ’n soort Freudiaanse studie kon doen van die skuilname wat mense gebruik: Aaptwak, Dachs­hund18, Jopie Fourie.

Sommige skuilname – en die inhoud van die kommentaar – dra swaar aan ’n soort onbedoelde ironie.

“Ek sê niks vir ’n persoon wat ek nie bereid is om ook reguit in sy gesig vir hom te sê nie,” skryf TerminatorIII
iewers. “Patete soos jy is net bang.”

Pateet. Dit is ’n woord wat jy baie in dié mense se kommentaar sien.

Dit is asof dit nie wil sin maak nie: Een mens noem iemand anders ’n pateet, maar albei gebruik skuilname? Wie sê nou eintlik vir wie sleg?

’n Ander ou, weer, noem homself Sako3006. Ek het gewonder hoe kom hy daarby uit, toe tref dit my: Jy kry ’n Sako-jaggeweer, en 30-06 is die kaliber van ’n geweer.

Sako3006 vuur sy woorde soos koeëls oor die internet af. “Gaan speel op die treinspoor toe. Weet jy ooit wat beteken intelligensie?” skryf hy onlangs aan ’n vrou. “Jy is seker ’n vroumens, nè? Gaan was skottelgoed en gaan mop die vloer.”

Nou wonder ek: Hoe verloop hierdie Sako3006 se dag verder nadat hy dít geskryf en sy rekenaar afgeskakel het? Is hy getroud? Lewe sy ma nog? Stap hy dalk by die vertrek uit waarin sy rekenaar staan na die kombuis toe waar sy vrou is. Hoe behandel iemand soos Sako3006 ’n vrou? Weet enigiemand anders hy lewer soms kommentaar oor die internet onder die naam Sako3006? Of is dit net sy geheim?

Weet net Aaptwak hy is Aaptwak? Weet net Dachshund18 hy is Dachs­hund18? Weet net Jopie Fourie, wel?.?.?. weet Jopie Fourie hy is nie die regte Jopie Fourie nie?

Droom hierdie mense ook onder skuilname? Bid hulle onder skuilname? Hoe voel hulle wanneer hulle daar voor hul rekenaars sit? wonder ek partykeer. Is hulle gelukkig? Of is hulle eensaam, verskriklik eensaam?

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

One Response to Sako3006 vuur die skuilkoeëls af

  1. Terug pieng: Wat elke leerling moet weet van die Internet | Arithmethon

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s