Dana Snyman, Beeld, 30 Junie 20111
Fanie en Ina-Mari was toe by daai charity ball in Johannesburg. Hulle het spesiaal opgevlieg soontoe.
Business class, natuurlik. Maar dit was die moeite werd, sê Ina-Mari. Alles was so amazing.
Hulle het die nag in die Michelangelo geslaap en Fanie het vir hulle ’n Jag gehuur. Die doe self was by Gallaghers, wat ’n amazing venue is.
Oprah sou ook daar gewees het, sê Ina-Mari, maar dalk was dit net ’n rumour. Almal wat iemand is, was daar. Selfs die Vavi-ou van Cosatu en sy vrou het gekom. En Bryan Habana. En Kurt. En Ray McCauley. En die Nutsman. En Amor.
Amor het lekker gedans met daai ou wat in Idols was. Hy is baie bekend, baie, baie bekend. Wat is sy naam nou weer? Anyway, hy en Amor het lekker gedans, sê Ina-Marie. Tog kan ’n mens sien daar is ’n diep sadness in Amor, maar sy gym weer en lyk absoluut stunning. Sy het iets van Malcolm aangehad – Malcolm, wat al klere vir Clint Eastwood se vrou ontwerp het.
Jy sal dit nie glo nie, sê Ina-Mari, daar was agt ex-Miss South Africas in die saal. Agt! Een van hulle was Amy Kleinhans. Of was sy ’n Mrs South Africa? Die tyd vlieg so. Anyway, Amy was daar en sy was stunning soos altyd, so plat op die aarde, ’n regte mens-mens.
Een van die ANC-ministers wat daar was, het vir Fanie gesê hulle sal nooit die myne nasionaliseer en die boere se plase terugvat nie, sê Ina-Mari. Fanie en die minister het lekker gesels, maar ongelukkig moes die minister vroeg loop. Hy sou die volgende dag Zimbabwe toe vlieg vir ’n vergadering. Die minister het ook vir Fanie gesê hy sal nooit ’n Breitling-horlosie dra soos Malema nie. Hy verkies ’n Tag Heuer.
Sy het vinnig met Pastor Ray gesels, sê Ina-Mari. Pastor Ray is eintlik baie down to earth en hy het ’n beter kleresmaak as enige van die dominees wat sy ken.
Pastor Ray het ook mos nou ’n wyn wat onder sy naam bemark word. Of is dit Bryan Habana wat sy eie wyn het? Of Kurt?
Kurt se vrou het stunning gelyk, in ’n lang, rooi Simon Rademan. Stunning, stunning, stunning.
Sy het besluit om dit maar eenvoudig te hou, sê Ina-Mari. Sy het sommer vir haar ’n swart nommertjie by Errol gaan koop. Swart is mos die nuwe wit. Oe, dié Errol is darem ’n darling, ’n absolute darling. Eintlik verkies sy hom bo Gert van de Merwe, al is Gert se ontwerpe dalk meer daring.
En die kos was uit ’n ander wêreld, sê Ina-Mari. Siberiese salm, lam uit die Karoo, Franse truffles, en diedivineste chocolate mousse waaraan jy kan dink.
Ná die ete was daar eers ’n comedy show deur Marc Lottering, toe kom die charity-veiling.
Dis amazing om te sien hoeveel hierdie celebrities vir hul medemens omgee, sê Ina-Mari. Charlize Theron kon nie self daar wees nie, maar sy het ’n serp geskenk om opgeveil te word – die serp wat sy gedra het toe sy aan die fliek oor daardie moordenares gewerk het. En Bryan het ’n rugbybal geskenk. Selfs die Nutsman het iets geskenk: Die boorstel wat hy gebruik het toe hy sy huis gebou het.
Fanie het tot op R6 000 op Bryan se bal gebie, maar toe het hy liewer opgehou, sê Ina-Mari. Sulke celebrity-rugbyballe het nie juis herverkoopwaarde nie en buitendien het Fanie nie regtig meer ’n plek om die bal uit te stal nie. Hy het mos sy kroeg en lapa by hul huis verander in ’n cigar room.
Ná die veiling, sê Ina-Mari, is daar partytjie gehou, tot ná middernag. Fanie het ’n Cohiba-sigaar gerook en sy het vir die eerste keer geproe hoe Johnnie Walker Blue smaak.
Sy kry sommer so ’n warm gevoel in die hart wanneer sy aan die aand dink, sê Ina-Mari. Meer as R100 000 is vir arm kindertjies in townships ingesamel.
Is dit nie amazing nie? Is dit nie stunning nie?
Pingback: Mens moet eintlik common wees | alleman